NEWS | Latest news articles

Aanpasbaarheid verseker die toekoms van landboumaatskappye

  • 27 October 2015
  • 2370
  •  Nasie in Gesprek
  •  
  •  nuus



Die vrymaking van die ekonomie na 1994 is waarskynlik die belangrikste gebeurtenis wat die rol en aard van landboubesighede dramaties verander het. Landboubesighede ding mee in vandag se ekonomie net soos enige ander besigheid. Hulle is nie meer geografies begrens nie en hulle aandeelhouers, kliënte en werknemers lyk anders.
 
Dit is die siening van Francois Strydom, Besturende Direkteur van Senwes, wat saam met Chris Venter, Uitvoerende Hoof van AFGRI, deelgeneem het aan die weeklikse landbougespreksforum op kykNET, Nasie in Gesprek. Die gesprekleier is Theo Vorster, Uitvoerende Hoof van Galileo Capital.
 
Op sy beurt het Venter gesê dat die wyse waarop boere produseer ook die afgelope twintig jaar verander het. Moderne presisieboerdery noop die boer om meer spesifiek te wees. Met die fokus op groter opbrengste en laer koste moet hy probeer om beter pryse met insetverskaffers te beding en beter diens van sy landboumaatskappye te kry.
 
Op ’n vraag van Vorster hoe landboubesighede te werk gegaan het om hulle stelsels en personeel aan te pas om in ’n sake-omgewing te kan meeding, sê Venter dat moderne tegnologiese ontwikkeling ’n groot rol speel. Tegnologie gaan vorentoe nog baie ontwikkel en die boer sal konstant daarby moet aanpas. Hy moes ook by die veranderde verhandelingsomgewing soos die termynbeurs aanpas om die regte pryse te beding. Landboumasjienerie se werkverrigting is nou baie meer presies. Dit skep nietemin ’n probleem vir kleiner boere wat nie altyd groot en duur werktuie kan bekostig nie.
 
Strydom wys daarop dat die eertydse landboukoöperasies wat ontstaan het uit boere se behoefte om gesamentlik te bemark en aankope te doen, ontwikkel het tot vandag se landboubesighede wat gespesialiseerde dienste op elke spesialisterrein moet kan aanbied. “Die kliënt is internasionaal kompeterend,” sê hy. “Prysontdekking van sagte kommoditeite vind internasionaal en sentraal plaas. Elke boer is dus daagliks in kompetisie met enige ander boer dwarsoor die wêreld en hy vereis gespesialiseerde dienste. Nuwe vennootskappe en samewerkingsgeleenthede ontstaan, waarvan Hinterland die beste voorbeeld is. Dit is die gesamentlike onderneming tussen Senwes en AFGRI wat gestig is om ‘n enkele gespesialiseerde, gekonsolideerde aanbod in die kleinhandel-insetkanaal te ontwikkel. Die kliënt is vandag in die posisie om enige kleinhandelproduk by ‘n hele reeks besighede te koop. Daarom moet die landboubesigheid hoogs kompeterend wees sodat die kliënt hom steeds verkies.”
 
Venter sê landboumaatskappye moet voortdurend daarop fokus om te verbeter om relevant vir die boer te bly. “Een ding wat in die 93 jaar van AFGRI se bestaan nie verander het nie, is dat die boer sentraal staan as kliënt. Landboumaatskappye in Suid-Afrika sal baie meer op dienslewering en effektiwiteit moet fokus. Hulle het toenemend met ‘n ander tipe boer te doen, want daar is nou heelwat meer kleinboere as voorheen wat gehelp en ondersteun moet word. Landboumaatskappye moet beplan vir die uitdagings wat voorlê om die boer as primêre kliënt na behore te kan bedien.”
 
Strydom stem saam dat landboumaatskappye tred moet hou met tegnologiese veranderinge in die boerderybedryf. Dit gaan gepaard met die internasionalisering wat na 1994 plaasgevind het, asook die mededingendheid waarmee die produsent vandag te doen het. Die voedselsektor moes daarby aanpas. Dit het ook meegebring dat multinasionale maatskappye in Suid-Afrika bedrywig is. Dit geld nie net die landbousektor nie. Alle sektore, waaronder die bankwese, het die internasionale terrein betree. Die hele voedselketting is daarby betrek. Dit is die volgende vlak waarmee ‘n landboumaatskappy te doen het. Hy moet groter, meer professionele besigheidseenhede aan die begin van die voedselketting daarstel, asook reg aan die einde daarvan. Suid-Afrika se 50 miljoen verbruikers word inderwaarheid deur vier groot voedselgroepe bedien. Daar het beduidende konsolidasie aan die voorkant sowel as aan die finale verbruikerskant van die voedselketting plaasgevind, met hoër mededingingsvlakke en internasionalisering. Daarom volg dit logies dat almal in die voedselketting dit moet doen. Dit het groter investering in tegnologie meegebring, asook ‘n algehele verandering in die aard van die personeelkomponent wat moes transformeer van besigheid-tot-kliëntverhoudings na besigheid-tot-besigheidsverhoudings.
 
Venter meld dat die landskap uit die oogpunt van die landboumaatskappy die afgelope twintig jaar meer verander het as in die voorafgaande 70 jaar. In die volgende vyf tot twintig jaar gaan dit nog meer verander. “Die wêreldwye uitdaging om voedselsekuriteit te handhaaf, bring mee dat Afrika toenemend in gesprekke genoem word. Mense wat aankope uit Asië doen, kyk uit ‘n strategiese oogpunt baie spesifiek na hoe Afrika vir produksie benut kan word.”
 
Strydom is van mening dat die geografiese afbakening van landboumaatskappye toenemend sal vervaag. Internasionale kompetisie is grensloos en die reaksie daarop sal ook grensloos moet wees. Sekere segmente van die landboubesigheid, byvoorbeeld die graanbergingsbedryf, sal nietemin steeds geografies en op bates gefokus moet bly. Daarteenoor is die kleinhandelbesigheid en verskaffing van insette grensloos. Die kompetisie op hierdie front is ook grensloos. Internasionaal is besighede soos graanverhandeling, logistiek, versekering en finansiering weer veel meer intellektueel- en stelselgedrewe. Dit blyk ook uit multinasionale maatskappye se aanslag in die Suid-Afrikaanse mark. Daar is sekere elemente waarop hulle fokus en ander wat hulle vermy. Hulle is tipiese bate-gebaseerde besighede wat sal wil saamwerk eerder as kompeteer. Hulle sou wel bestaande infrastruktuur kon dupliseer, veral wat alternatiewe berging betref. Die wese van alternatiewe berging het die afgelope paar jaar dramaties verander. Mededingendheid het plek gemaak vir herinvestering deur bate-gebaseerde besighede. Suid-Afrika se silo-kapasiteit is in die jare 1960 opgerig, en dit is eers in die jongste tyd wat groot herkapitalisering van bergingsbates plaasvind.
 
Strydom noem twee belangrike insidente wat nie net die Suid-Afrikaanse ekonomie struktureel verander nie, maar ook die hele wêreld s’n. Eerstens kom die supersiklus van kommoditeite wat in die jare 1970 tot 1980 begin het, nou tot ‘n einde. Tweedens is die olieprys wesenlik laer. Die twee komponente het ’n direkte invloed op die landboubesigheid en die produsent. Die produsent moet ten opsigte van insette en die gebruik van tegnologie meer doen met minder. Hy moet nuwe inkomstestrome, kompetisiemetodes en vennootskappe ontwikkel. Dit is alles elemente wat in die toekoms toenemend meer relevant sal wees. Landboubesighede moet nou op die onderste draaipunt van die supersiklus steeds relevant en kompeterend bly. Dit bied uitdagings dwarsdeur die voedselketting. “Ons bevind ons nou in die eeu van die kliënt en die verbruiker. Ons het deur die era van industrialisasie en daarna inligtingstegnologie beweeg en het nou met ‘n hoogs ingeligte en kompeterende verbruiker te doen. Dit het die spelreëls geheel en al verander. In enige besigheid gaan dit vandag oor die kliënt en die mag waaroor hy beskik.” 
 
Venter meld dat die veranderende omgewing die groot uitdaging is. Die maatskappy moet die omgewing deurlopend ontleed, buigsaam en gereed vir verandering wees en ‘n kultuur en klimaat skep wat hom deurentyd paraat hou vir verandering. Van kernbelang is die behoud van kundigheid en ervaring deur seker te maak dat personeel wat reeds dekades lank by die maatskappy is, verstaan waarom verandering nodig is en gereed is daarvoor. Van die jongste tot die oudste personeellid moet in ‘n konstante staat van gereedheid vir verandering wees.
 
Strydom sê dit is belangrik dat die landboumaatskappy nie bloot op verandering moet reageer nie, maar inderdaad verandering moet inisieer.   “Die toekoms is die produk van jou insette en ontwerp. Landboubesighede moet ook veranderingsagente wees. Hulle moet op die voorpunt van kennis en kundigheid oor nuwe tegnieke bly, en die kliënt daarheen lei. Vandag se groot boere funksioneer soos ‘n maatskappy wat op die AltX (Alternatiewe Beurs) genoteer is, hoewel hy minder strukture sal hê en inherent steeds ‘n familiebesigheid bly. In die meeste gevalle is besluitneming op een persoon gesentreer, wat nie net diens van die landboubesigheid verlang nie maar ook insette wat hom kan help om te verander.”
 
Daar is min maatskappye in Suid-Afrika, vat Vorster die gesprek saam, met ‘n geskiedenis van 93 jaar soos AFGRI en 106 soos Senwes. Met die nodige aanpasbaarheid by ‘n veranderende omgewing is daar ‘n blink toekoms wat voorlê.
 
Einde
 
Die volledige program kan op YouTube gevolg word:
 
Navrae / Versoeke om onderhoude:
Ronel Botha – Brand Republic (vervaardiger)
011 465 0099 / 082 875 3914
 
Nasie in Gesprek in perspektief
Nasie in Gesprek is in 2013 tydens die jaarlikse Nampo Oesdag in Bothaville onder leiding van Senwes, een van Suid-Afrika se mees prominente agri-besighede, van stapel gestuur as uitvloeisel van die suksesvolle gespreksforums wat as deel van die Oesdag-program aangebied is.

“Oplossings moet gevind word om die voortbestaan van ‘n groeiende landboubedryf in Suid-Afrika te verseker. Dit is in landsbelang dat daar samewerking sal wees om die uitdagings wat die landboubedryf in die gesig staar die hoof te bied en ‘n lewensvatbare toekoms te verseker”, sê die Besturende Direkteur van Senwes, Francois Strydom. “Dit kan slegs verseker word deur ’n progressiewe benadering, samewerking en totstandkoming van vennootskappe tussen kommersiële boere, staatsamptenare en die regering.”

Dit is juis om dié rede dat sleutelrolspelers in die landbousektor die Nasie in Gesprek-forum geskep het waar meningsvormers en kenners van verskillende affiliasies en politieke agtergronde asook die sakesektor byeen gebring word om oor landbou-aangeleenthede van nasionale belang te besin.
Die waarde wat deur hierdie forum toegevoeg word, het dermate gegroei dat Nasie in Gesprek nou ook as ‘n gespreksreeks op Business Day TV, Soweto TV en kykNET uitgesaai word. 

Nasie in Gesprek-vennote: Senwes, AFGRI, Fort Knox, Hinterland, NWK, Nedbank and Monsanto.





Related Articles